11/05/2025
Mamma's...
Nie elke vrou vier Moedersdag met blomme, ontbyt in die bed of ’n selfgemaakte kaartjie met kriewelletters nie. Sommige vroue bly vandag in die bed – nie uit gemak nie, maar om te ontsnap aan wat die dag herinner. Sommige vroue stap met ’n glimlag deur die kerk se deure, net om op die ou end stil-stil te vlug voor die dominee sê: “Laat al die mammas asseblief opstaan.”
Hierdie brief, hierdie woorde, is vir jou. Jy wat dalk al honderd keer in jou drome jou kind se hare gevleg het, maar nooit in die werklikheid nie. Jy wat op kinderpartytjies glimlag en koek opskep, terwyl jou hart saggies huil oor ’n droom wat nooit jou werklikheid geword het nie.
Daar is vroue wat al babaklere gekoop het sonder ’n baba in die huis. Vroue wat geboortekaarte ontwerp het op Pinterest, wat babaname oorweeg het soos ander oor troudatums droom. Vroue wat in hospitaalkamers gelê het met ‘n leë baarmoeder ná ’n miskraam, maar wat daardie stilte nooit aan iemand kon verduidelik nie.
Dan is daar vroue wat ’n kind in hul arms gehad het – vir ’n paar uur, dae, weke – net om hulle te moes groet. Hulle het daardie baba gesien asemhaal… en stilraak. Daar is geen groter rou as om ’n leë wieg in ’n stil kamer toe te maak nie. En geen woorde wat ooit die diepte van daardie verlies kan meet nie.
Sommige van julle het jare gewag – en gegee, probeer, hoop, gebid. En later – dalk uit moed, dalk uit uitputting – aan jouself gesê: “Dis reg. Ek is genoeg. Ek moet nou vrede maak.” Maar vrede is nie altyd stilte nie. Vrede is soms net ’n sagte berusting – en dis okay as jy dit nog nie het nie.
Vandag, op Moedersdag, wil ek iets radikaal sê: jy is ’n mamma. Jy het dalk nie ’n baba op jou heup of ’n seuntjie wat vir jou ’n kaartjie gemaak het nie, maar jy het gedra – in jou liggaam, of in jou drome, of in jou hart. Jy het geglo, verlang, beskerm en gegee. Jy het jou liefde aan ’n mensie gegee wat jy nooit gesien het nie, of vir wie jy te min tyd gehad het.
En jy moet weet – dit tel. Jy tel. Jou storie tel.
Daar is vroue wat ander se kinders grootmaak as hul eie. Tannies, susters, onderwysers, pleegmammas. Vroue wat die rol van mamma speel sonder die titel. God het ’n sagte hart vir julle. Hy sien elke traan, elke nag waar jy gewonder het: “Wat is fout met my?” Elke keer wat jy met ’n glimlag gesê het: “Ek is okay,” en dan in die motor gaan sit en gehuil het. Hy het dit gesien. Hy het dit geweet.
Ek wil nie hê jy moet vandag probeer sterk wees nie. Ek wil hê jy moet regtig wees. Al beteken dit jy moet sê jy is seer. Al beteken dit jy sê jy’s kwaad. Al beteken dit jy sê niks nie – maar jy voel alles.
Ek wil hê iemand moet jou vandag vashou – selfs al is dit net God. Ek wil hê jy moet weet jy is nie alleen nie. En jy is nie minder nie. Jy’s nie vergete nie. Jy’s nie gebreek nie, al voel dit so. Jy is nie half nie – jy’s heel in ’n wêreld wat nie altyd jou waarheid verstaan nie.
En as jy voel jou arms is leeg – mag jy ook vandag voel dat God jou toevou met liefde, dat jy voel daar is nog iets in jou om te gee, selfs al is dit nie op die manier wat jy gehoop het nie.
Vandag eer ek jou. Ek eer jou pyn en jou drome. Ek eer jou stilte en jou opofferings. Ek eer elke vrou wat iets van haarself moes prysgee, en wat nooit erkenning kry nie. Ek eer die vrou wat nooit vir iemand kon sê sy het ’n baba verloor nie. Ek eer die vrou wat haar kind moes gee vir aanneem ouers. Ek eer die vrou wat nie vir haar eie kind kan sorg nie, maar elke dag hoop iemand anders doen.
Ek skryf vandag vir jou omdat jy nie altyd opstaan wanneer hulle sê “staan op, mammas” nie. Maar jy het lankal opgestaan – in ’n ander sin. Jy het opgestaan toe jy nog ’n toets gaan koop het, toe jy die trane afgevee het ná weer ’n oproep van die dokter, toe jy die wieg uit die kamer uitgedra het, toe jy ander kinders liefde gegee het terwyl jy jouself weggegee het.
Vandag is vir jou ook. Moedersdag is vir elke vrou wat ooit soos ’n moeder gevoel het, maar nie soos een erken is nie.
Mag God jou seën met vrede – al is dit nog rou. Mag jy weet jy is nie alleen nie. Mag jy weet daar is mense wat jou pyn erken. En mag jy, op jou eie tyd, jou eie manier, tog vrede vind.
En as jy iemand ken wat vandag stil-stil seer kry – sê iets. ’n Boodskap. ’n Drukkie. ’n Oomblik van erkenning. Jy weet nooit wat dit vir haar mag beteken nie.
Gelukkige Moedersdag aan een en elke Mamma. Julle is ysters 🩵