11/08/2026
Dit was ‘n koel wintersoggend toe taklede opdaag by Platrand se Boeresaal vir hul maandelikse vergadering. Dit was ‘n baie spesiale oggend want die tak is twee lede ryker, Maureen Wentworth en Zoe Louw. Maureen is woonagtig in Standerton en Zoe bly in die omgewing van Platrand.
Gasvroue vir die oggend was Stephanie Schutte, Petro Jooste en Chantelle Jooste. Natuurlik het lede die eetgoed terdee geniet en daar was ‘n vrolike atmosfeer. Almal het heerlik saam gekuier oor 'n koppie koffie.
Lede het Lemoentoffies inhandig vir beoordeling. Daar was slegs twee inskrywings en daar sal weer ‘n kans wees met die volgende vergadering om in te skryf. Albei die inskrywings gaan deur na konferensie. Dames wat ingeskryf het was Carien Schabort en Stephanie Schutte.
Stephanie het lede verras met ‘n baie oulike demonstrasie oor hoe om "Caviar" te maak met gelatien, lemoensap en koue olie. Dit was baie interessant en die eindproduk was baie mooi vir garnering en ook smaaklik. Dis ‘n eenvoudige resep en lede gaan dit definitief probeer in die toekoms.
Platrand is volgende jaar 60 jaar oud en vir die geleentheid het die tak geel mieliemeel in lapsakkies laat maak. Dit word verkoop teen R60.00.
Mieliemeelverkope vaar goed sover en gelde sal gaan om die tak se fondse te versterk.
Tydens die vergadering is daar vinnig gesels oor die opkomende kongres en sake soos die verkiesing en beskrywingspunte was deeglik bespreek. Dit was ‘n lekker, vol oggend en lede het huis toe gegaan met ‘n lied in die hart.