19/11/2025
Wanneer mense vir Plaas Tannie resepte vra, gaan daar so ’n rilling agter haar rug af. Sekere mense het net die vermoë om enige jarelange resep so op te foeter dat tot ’n werfhoenderhaan ’n galaanval daarvan sal kry.
Sy vra die resep en jy gee dit. Jy neem sommer ’n foto van jou handgeskrewe resep en stuur aan. Sondagoggend kry jy net jou sit in die kerk, laat sak jou geboë hoof, vra die liewe Heer om al jou wraakgedagtes te vergewe (want die Oom het gister weer heeldag voor die TV gelê en rugby, krieket en tennis kyk....sommige wedstryde vir die sesde keer) en dat die Liewe Here asseblief die stoof daar by die huis moet afsit (net ingeval jy dit aangevergeet het) en dat die weer wat so mooi opsteek asseblief nie moet kol-kol reën nie ( al gebeur dit elke jaar dat dit in die na-somer kol-kol reën)...toe brom-bewe die selfoon in jou handsoek en jy weet dit help nie om te vra dat die liewe Heer daai een moet stil maak nie. So jy haal die foon uit en loer sonder om Amen te sê na die skerm.
Nes jy gedink het. Dis SY.
Is jy seker dis net 4 lepels Maizina?
Ja.
Nou hoekom is dit so slap?
Dit moet so wees.
Nou hoe skep mens dit dan?
Met ’n lepel.
En is dit dan so ’n papspul op die bord?
Nee.
Sny mens dit in blokke.
Nee. Nie noodwendig nie.
Ek gaan tog maar drie eetlepels meel ingooi. Ek hou nie van papgoed nie.
HERE, HELP MY OM NIE MOORD TE WENS NIE. Ek sit die foon in my handsak en probeer om op die dominee se woorde te konsentreer.
Skaars in die kar of die foon brom-bewe weer. Ja, reg geraai, dis SY.
Is jy seker jy het die resep reg afgeskryf? Hierdie pampoentert is so styf jy kan dit as ’n baksteen gebruik!
En net daar besluit ek: NOOIT, OOIT weer gee ek vir iemand ’n resep nie. Miskien nog net een keer. Oor daar so baie Plaas Tannie-saameters gevra het.