09/05/2023
En daar ontdek ons toe mos "per ongeluk" 'n klein juweeltjie in die hartjie van Montagu, Western Cape
Ons ry deur die pragtige dorp, een van my gunstelinge, op soek na 'n dierevriendelike eetplek. Stef hou sommer in die middel van die dorp in 'n oop parkeerplek stil om te Google. Terwyl ons wag, kyk Santie links en daar ... reg onder ons neuse, is Leon's on 62 . Stef gaan hoor gou of bederfie Summer, die Jack Russell, mag inkom en sowaar, Leon sé sy is baie welkom!!
Ons word vriendelik verwelkom en deurgeneem na die tuin agter die huis. Daar is heelwat tafels gereed om kliente te ontvang, en ons kies een op die stoep.
Daar begin 'n lekker kuier. Die boomryke tuin is vol oulike kunswerke, eksotiese voéls in netjiese hokke en selfs hoenders .. tot Summer se groot vermaak (en frustrasie, want moet heeltyd hoor "SuMmer, nee!)
Die craft bier is yskoud en my sap heerlik. Selfs Summer se bakkie water lyk lekker. Ons gasvrou bederf ons met vriendelike diens en lekker gesels.
Ons eet lamskerrie, rys en groente en geniet elke happie. Die lamskerrie is slegs een van 'n verskeidenheid watertandlekker geregte op die spyskaart, en als word vars gemaak.
Binne die restaurant is 'n verskeidenheid van konfyte, preserves, ingelegte vrugte, asook beskuit, koekies en ander lekkernye te koop. Leon maak self die konfyt.
Baie dankie Leon, ons het lekker by julle gekuier! Ons sien julle sommer gou weer.
Gaan kuier by Leon's on 62, en gaan geniet 'n ontspanne kuier saam met vriende. Geregte ook beskikbaar as wegneemetes.
Dierevriendelik.
Adres: 38 Bath Street, Montagu
FB: https://www.facebook.com/profile.php?id=100083146578240
Tel: +27 71 444 5677
Tot volgende keer.
Pippagroete