16/05/2022
BEAUTIFUL Inner Healing ♡ Abiding in His Love
Vandag wil ek gaan kruisbeen sit, in my Vader
se hart. Net elke gedagte soet en suiwer
aangaande my inneem. Elke hoop, elke droom.
Ek wil kyk na myself soos Hy my sien. Ek wil
voel en ervaar hoe Hy jubel en juig oor my. Stil
tevrede in sy liefde vir my. Sag sy glimlag.
Warm sy koestering. Dit oorweldig my met
verwondering.
Ek wil net daar al my bekommernisse uit my
tas uitpak. Elke angstigheid vir Hom gee. Ek
wil elke traan en elke hartseer voor Hom
neerlê. Elke onrustigheid in my gemoed
oorgee. Ek wil stil word en weer opnuut op
Hom vertrou. Hom toelaat om saggies tot my
siel te spreek. My van binne af te versterk. Sy
Heilige Gees in, en deur, en vir my, te laat
werk.
Ek wil my hand, in die regverdige hand van my
Vader plaas. Sy hand van liefde waaruit
niemand my kan ruk nie. Sy hand wat my met
deernis gevorm het. Sy hand wat my in
onvoorwaardelike liefde saamgeweef het. Sy
hand wat vir my 'n mooi deel afgemeet het. Sy
hand van geregtigheid, van krag, van redding.
Sy hand wat my toevou. Sy hand wat my
beskerm. Sy hand wat oor my gedagtes en my
hart die wag hou. Sy hand wat aan my skuiling
bied. Sy hand wat my oprig en my plaas op die
Rots van oorwinning.
Daar wil ek sit en die Vader se hart verken.
Die hart van die Vader ken. Totdat my gees
vernuwe is. My hart rein. My verstand
standvastig in Hom.
Kosbaar is u gedagtes vir my, o God! Hoe
onmeetlik is die totaal!" (Psalms 139:17)
Wil jy met iemand gesels?
Kontak Liezle Beautiful Inner Healing
082 500 2223
Geskryf deur Alta Strauss
©️maroelamedia